Sunday, March 28, 2010

W. H. Auden: 'n Platoniese raps

W. H. Auden

W.H. Auden het sy pornogedig “The Platonic Blow” so ongeveer in 1948 geskryf. Dit was oorspronklik getiteld “A day for a lay” & is as tikskrif onder sy persoonlike vriendekring gesirkuleer, voordat dit in 1965, tot sy wrewel, deur die tydskrif Fuck, ’n New Yorkse samizdat kunsblaadjie, gepubliseer is.

Alhoewel Auden nooit in die openbaar erken het dat hy die gedig geskryf het nie, was hy nietemin baie omgekrap dat Fuck dit sonder sy toestemming gepubliseer het, & nie eens die ordentlikheid gehad het om hom daarvoor te betaal nie. Toe die tydskrifredakteur aanbied om hom te vergoed, het Auden geweier om enige betaling te aanvaar aangesien hy, so het hy volgehou, nie die gedig geskryf het nie!

“The Platonic Blow” het ’n kort & baie stormagtige openbare bestaan gevoer. Kort nadat dit gepubliseer is, is al die kopieë van Fuck tydens ‘n polisieklopjag gekonfiskeer & vernietig. Die gedig is terstond hertitel as “A gobble poem” & in 1967 deur Fuck Books in London, & in 1969 deur die tydskrif Suck in Amsterdam uitgegee. In 1970 het Guild Press ’n spesiale geïllustreerde uitgawe daarvan gepubliseer. Die outeurskap van die vers word nie langer betwis nie, verál sedert ’n kopie daarvan in Auden se handskrif ná Christopher Isherwood se dood tussen sy dokumente gevind is.

Die gedig is egter nie deur Auden sélf, sy eksekuteurs of enige latere samestellers by sy versamelde gedigte of gedigversamelings ingesluit nie. Wat nogal jammer is, want niks wat Auden geskryf het, was ooit weglaatbaar swak nie, & “The platonic blow” is ’n klassieke gedig wat uit & uit Auden se stempel dra, tegnies bedrewe & m.i. ’n waardige bydrae tot sy oeuvre, & ’n blitskursus in tegniek & vormbeheer vir enige jong digter. Auden slaag daarin om aan die vers ’n gespierde vleeslikheid te gee deur die gryp-&-los van binne- & eindryme, & ‘n pulserende ritme onder meer deur vernuftige enjambemente.

Ek het tydens my besoek aan NY in 1987 ’n paar kopieë van ’n beperkte-oplaag-uitgawe gekoop & leef sedertdien met dié gedig saam. Verlede jaar het ek vir die eerste keer die moed gehad om ’n vertaling daarvan te probeer maak & op dié manier iets daarvan vir myself & vir die Afrikaanse digkuns toe te eien. Wat hier volg, is ’n eerste poging, sonder om by die kruisrym & vernuftige binneryme te hou. Sónder rym kon dit darem ook nie.

Oor nog ’n jaar of drie sien ek straks kans om daardie binneryme by te werk, of nóg ’n rympaar per strofe. Die vertaling het opnuut my waardering vir Auden se vakmanskap bevestig.

Platonies
W. H. Auden

Dit was ’n lentedag, net die dag vir ’n lê, & die lug
ruik die ene kleedkamer; ’n dag om te suig of gesuig te word.
Toe ek hoek-om kom na my middagmaal sien ek hom
naby op ’n rooi stoep staan, vars asof pas uit die stort.

Ek gluip & ek sluip. Die kraakwit t-hemp omlyn
’n kragtige bolyf, die verbleikte denim verraai
net soveel. Ek merk die snoes kurwes waar dit fyn
die agterstewe omhels, die mik waar die lap tergend aai.

Ons oë ontmoet. Ek voel siek. My knieë wil swik.
Roer kan ek nie. Weet nie wat om te sê of vra.
In ’n waas, soos ’n vreemde, hoor ek myself praat:
“Wil jy saamkom?” En hy wat bukserig sê: “Ja.”

Ek haal bier vorendag, ons gesels. Skugter soos ’n jong seun
vertel hy my sy storie. Huidige adres: die huis neffens my,
half Pools, half Iers. Die jongste. Van Illinois.
Ambag: handwerker. Naam: Len. Ouderdom: 24, om & by.

Hy sit sy bierglas neer & strek sy kaal arms oor
die rug van my sofa. Die namiddagson slaan
vonke uit die hare op sy gewrig. Sy ken is sterk,
sy mond smakkig. Ek voel my geluk op losse skroewe staan.

Maar hier sit hy, reg langs my, met sy bene wyd-oop.
Langer kan ek dit nie hou. Ek streel sy binnedy.
Hy antwoord met nader skuifel. Ek bewe, my hart
klop & skop terwyl my vingers sy gulp oop probeer kry.

Die gleuf in die flap gaan oop. My hand glip na binne.
Ek vroetel na ’n spleet in die boxers wat sag vou oor
die peulvrug waarna ek smag. Ek voel warm vlees, dan krullevag.
Ek vors verder. Ek vind wat ek verwag. Ek gryp. Dis dubbelboor.

Hy reageer op my vertroeteling op ’n onbehoorlik bekoorlike manier:
Sonder ’n woord maak hy sy lyfband los terwyl ek vrywe & klou,
leun behaaglik terug, bene uitgestrek. Sy broek val om sy enkels.
Ek wikkel hom behendig los, & aanskou wat ek in my hande hou.

Die besnyde glans was die werk van ’n meester
met ’n volmaak geslypte velling, van ongewone karaat
& die plesierigste rooi. Selfs ontspanne, was die skag
van vorstelike formaat met plooie wat die geheim uitlaat

van uitsonderlike verlengingskrag. Vir ’n sekonde of twee
bly dit roerloos lê, voor dit skielik in my hand roer,
dan huiwer asof onbeslis oor die volgende skuif,
& dan met ’n wilde bokspring uitdy tot dóér.

Geluidloos verleng dit maat vir maat & verbrei, klim
met rats bokspronge, bloos, tot volle grootte uitgegroei,
so byna nege duim lank, sy dikte omvat deur middelvinger & duim,
’n vorstelike suil, onsegbaar plegtig, onder g’n kalkoen uitgebroei.

Ek toets sy torsie & proporsie met ’n druk van my hand,
Ek bondel my vingers & omkring die kloppende knop,
ek streel dit op & af. Ek sak af op my knieë.
Ek laat sak my kop & maak my mond oop vir die job.

Maar hy stoot my sagkens weg, buk af & knoop
sy veters los. Hy trek sy kouse uit. Staan op. Raak
van die boxers ontslae. Spiere in sy arms & heupe
golf as hy sy t-hemp oor sy kop trek, nou heeltemal naak.

Ek bekyk sy brons vel, geprikkel deur die kontras van bruin
lyf teen wit onderbroek styf gespan om smal malse
heupe. Met ’n duimhaak & wikkel skil hy dit af.
Ek pluk my klere af. Hy kyk na my, glimlag. Ek sien als.

Die pragtige orgaan staan reguit óp & styf
effens breër van onder na bo. Elke hartklop word aanloop
vir ’n vreemde klein knik na my kant toe. Uit die gleuf van die tuit
vorm traag ’n druppel deursigtige, klewerige stroop. 

Die krullevag was blond & sag, ’n jongman se boskasie,
’n ruigte van krulle & kartels, weelderig, nie kru of plat.
Behalwe vir die kam van goue haartjies wat uitwaaier
na die netjiese naeltjie, is die res van sy maag haarloos & glad.

Goedbedeeld, swaaiend in die vurk van gespierde bene,
die ferm kalbas van sy saad soos ’n bultende peer,
knaters wat knewelig wieg, twee swaar balle
wat swaai soos hy naderkom, sy parte onbeskaamd paradeer.

Ons lippe kom saam. Ons raak verstrengel. Elke greep word gryp,
elke daad, kontak, die slaags raak & die ineenhaak
van tonge, die sjarme van arms. Ek sidder by die blote gly
teen sy jong vlees. Ek swik van die skok van sy voël teen kloaak.

My bene skrylings oor syne werk ek rapsie vir rapsie sy wiggel-
roede in my op & trek strop daaróm so styf as ek kan.
Die lankuit hitte van sy pens & flanke druk teen myne.
Kaal, aan mekaar gegom, bly ons ’n wyle so staan.

Ek knibbel sy oorlelle, die rugkant van sy nek
& die breë skouers. Ek kry pront die kompakte half-
rondes van sy agterstewe beet. Ons wankel. Hy val op die bed.
Lippe oop, oë toe, lê hy daar, gereed om my in te salf,

ryp vir gryp, om te ruik & te bevoel. My lippe
verken begeerlike man-tepels. My oë in tweevoud
takseer die borskas. Ek liefkoos die atletiese buikspier
& die lenige lede. Ek beproef die groef van die binneboud.

Ek koester, ek snoes in sy oksels, ek snuif
die subtiele snuf van elke klos, lek smagtend die stuif-
sout van die warm holtes. My vingers dwaal
af op inspeksie, ’n tydsame toer van die lyf.

Afwaarts in ál nouer kringe kronkel hulle speels,
oortree op die gebied van sy geslag soos diewe, omsingel die piel,
maar swenk tergend weg, ontwyk die samekoms. Dié verraai
sy polsende nood met ’n taamlik onbetaamlike soebatsriel. 

“Moet ek jou tongnaai?” fluister ek. Hy versit sy waaie & willig in,
draai op sy sy, sprei sy dye, laat my afsak ent vir ent
na die donker plek daaronder. Ek soen elke duim
van die dik koord wat strek van sy balle tot by sy agterent.

Ek sprei sy sitvlak oop, ek snuffel my pad oop
met die harige hellings langs. Bereik die gerimpelde roset.
Dit kriewel onder my tong. Hy druk sy mik teen my ken.
Sy dye kronkel as my tong in sy hol wikkel sonder belet.

Sy wulpsheid hunker na vervulling. Hy laat sak
sy bene, sy asem rasper, geil soos ’n jong reun, loops,
kaal, tot barstens geswel, hitsig & ruig om gesuig te word,
hande wat die beddegoed gryp, al sy porieë vir die vreugde oop.

Ek takseer sy pielstyf. Neem bestek op van sy parte met my staar
van balsak tot tepel. Korrel af langs die onderste rif
van sy voël, loer deur die ruigte van sy skaamhare
op na die terrein van die borskas, wat fier & ruim val & lig.

Ek bewonder die tekstuur, die fyn plooie & die haarfyn
genaaide nate van die ruim balsak. Ek verafgod & swig
voor die swier van roede. Ek lig die verruklike vleis
na my mond, bring die aansig van horing na my gesig.

Ek glip my lippe om die Bisantynse dom van die kop,
met die tip van my tong liefkoos ek die gevoelige keep.
Die trilling laat hom ril. “Dis heerlik!” fluister hy skor.
“Hou aan! Moenie stop!” Stadig laat ek my tong dweep.

Sagkens, & agsaam, gly ek na die massiewe anker
van sy magtige suil, om vir ’n wyle te stop
in die warm vogtige ruigte, & dan op my spoor terug
duim vir duim die gladde weg na die helmknop.

Opwindings van binne swel aan, voorspel van verrukking,
as ek afsak & opkom langs daardie geswolle wande.
Ek omvat sy stam tussen linkervoorvinger & duim
& kielie sy swaar, bultende balle met beide my hande. 

Ek duikel met ritmiese slukke, stadig & sekuur,
& maak elke slag met my tong ’n kurktrekkerdraai.
Sy siel duisel van die sensasie. Hy kerm “O my fok!”
soos ek lek & por, kielie, skommel & aai.

Dan druk ek op die plek waar die kruis hom las met die kloot,
glip ’n vinger glad in sy aars & begin hom van binne masseer.
Die geheime sluise van sy sappe raak stadig ontsluit.
Die ene begeesterde peester roep hy “Bliksem!” weer & weer.


Golwe van baldadige genot stoot op in sy voël, trek saam in sy mik.
Ek lê stil in die wig van sy kruis, die geur van sy sweet maak my hoog.
Sy sfinkter trek stuip om my vinger. Regoor my rug, kwistig & dik,
pomp hy warm sarsies sponk, spuit dit uit boog op wit boog.

(Vertaal deur Johann de Lange)