Tuesday, April 13, 2010

lemoen-liedjie





Herhaling is een van vele tegnieke tot beskikking van die digter, & sekerlik baie belangrik in die hande van die vryevers-skrywer. ’n Oorsig oor die vroeë poësie van Antjie Krog laat blyk hoe belangrik ’n bindmiddel dit vir haar was & die vindingryke wyses waarop sy dit ontgin.

Soos Breytenbach in die programgedig waarmee sy oeuvre ingelei word & waarin hy onder meer begin met

Dames en Here, vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach,
die maer man met die groen trui; hy is vroom
en stut en hamer sy langwerpige kop om vir u
’n gedig te fabriseer

(1964, 3)

lei Antjie Krog eweneens haar digkuns in met ’n soortgelyke “verklaring”:

Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
’n kaalvoet gedig –

(2009, 47)

Met hierdie belydenis stel sy ’n nuwe onopgesmukte poësie in die vooruitsig, een wat hom nie van die tradisionele ‘uiterlike’ poëtiese elemente soos rym & interpunksie gaan bedien nie, ’n soort gedig wat nie gesofistikeerd gaan probeer wees nie, maar in gesprekstrant direk wil kommunikeer, eenvoudig, spontaan – 'n “kaalvoet gedig”.

Dit is interessant om daarop te let dat die gedig aan die spreker se “Ma” gerig word, wat in die werklike lewe sélf skrywer is. Hiermee stel die dogter haar op teen die ma & die poëtiese tradisie wat die ma verteenwoordig, & vra sy by voorbaat verskoning dat sy nie die dogter/digter is wat sy “graag vir jou wil wees nie”.

Reeds in hierdie “programgedig” kom die leser tegnieke teen wat die digteres regdeur haar oeuvre gaan benut. In die eerste strofe met sy tipografiese inspringing gebruik sy herhaling in die vorm van parallelisme:

sonder...leestekens
sonder (rym)woorde
sonder bywoorde

Die tipografiese isolasie van hierdie reëls beklemtoon nie slegs hulle “eendersheid”nie, maar maak dit ook duidelik dat hulle almal kwalifikasies is van die voorafgaande “’n gedig”. Die digter gaan dan voort & in die tweede strofe gebruik sy ’n opeenstapeling van beelde om die relasie tussen haar & moeder te metaforiseer. Die opstapeltegniek word hier gekombineer met paralelle sinkonstruksies, deur frases wat begin met “jy” gevolg deur ’n werkwoord & “my”:

jy maak my...
jy beitel my...
jy draai jou...
jy lag (en breek) my...
jy offer my...

asook “jou” gevolg deur ’n adjektief & selfstandige naamwoord:

jou krom handjies
jou swart oë
(jou) spits woorde

of meer kompleks:

jou moesie-oor my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater

Die gedig rebelleer na vorm sowel as inhoud teen die tradisie waarvan die moeder deel uitmaak, ’n verset wat ook godsdienstige dimensie verkry wanneer die metafore wat op die moeder betrekking het dikwels religieus is: offer, Here God, bybel.

Dit is interessant om hier te let dat die verset aanvanklik teen die moeder is. Later in Krog se oeuvre word die verset teen die literêre tradisie baie duidelik ’n verset teen die patriargie soos verteenwoordig deur verál die digter D.J. Opperman, maar ook N.P. van Wyk Louw.

Antjie Krog se programgedig word verder betekenisvol wanneer haar debuut geplaas word langs ander bundels wat in dieselfde jaar verskyn het, byvoorbeeld Sheila Cussons se Plektrum, & Ina Rousseau se Taxa, beide bundels met sterk vormbewuste verse. Vir die bysiende leser deur Wilma Stockenström wat ook in 1970 verskyn, hoewel baie idiosinkraties, sluit aan by die wegbreek van die (Opperman) tradisie in die poësie, so ook Lina Spies se Digby vergenoeg wat in 1971 verskyn. Breytenbach het natuurlik met die ysterkoei moet sweet reeds in 1964 die leestekenlose vrye vers aangekondig, ’n bundel wat duidelik ’n groot invloed op die jong Krog moes gehad het.

Herhaling by Krog sluit ook ten nouste aan by haar gebruik van musikale strukture, waarby nie net die “argitektuur” van die musikale struktuur bedoel word nie (& wat dikwels by haar ook visueel in die tipografie vasgelê word), maar ook die gebruik van die refrein. Hier kan byvoorbeeld gekyk word na “Fughetta vir drie stemme” uit Dogter van Jefta (1984/1990, 12) of “Duet” uit Januarie-suite (1984/1990, 65).

’n Vers soos “Bly by my” illustreer nóg ‘n tegniek, nl. dié van paralelle opbou, in hierdie geval ook visueel vergestalt in die tipografiese aanbod:

bly by my
     wanneer dit reën
     sodat my treurigheid klein kan word

bly by my
     met die kraal van jou hande
     sodat die winde verby my ore waai

bly by my
     met jou wit uiltjie
     sodat ek kan vergeet van my afsterf

bly by my
     wanneer die aarde se onderlyf skeur
     en my klein eiland verdrink in die nag.

(1984/1990, 83)

In “Sonnet” neem Krog se verset teen die tradisie die vorm aan van ’n omkeer van die Shakespeariaanse sonnetvorm deur te begin met die slotkoeplet & dan terug te werk, asook deur die afwesigheid van vaste rympatrone of ’n vaste metrum. Nogmaals gebruik Krog herhaling om haar vers te bind.

vanaand weet ek
dat ek jou nooit weer lief sal hê nie:

jou hande het te klein geword
om my vas te hou jou
liggaam te tenger
om my te bevry

ek het losgespoel uit pyn en hartseer
en uit jou
ek het koeie sien opstaan uit die gras
’n dag sien sterf soos ’n voël op sy rug

ek moet nou opstaan
en ’n horison breek
omdat ek moeg is
vir jou nat snoet in my lies.

(1984/1990, 92)

Let ook op hoe sy in die tweede & derde strofes parallelisme & kontras gebruik om die vers te bind. In strofe twee gaan dit oor die aangesprokene, die “jou” in die konvensionele liefdesgedig. Maar dié is geen konvensionele liefdesgedig nie: ook die beelde van die liefdesvers word omgekeer, nl. Die liggaam van die geliefde. Hier het die geliefde se “hande... te klein” & sy “liggaam te tenger” geword om enersyds vas te hou & andersyds te bevry.

In die derde strofe, waar dit gaan oor die spreker, word beelde opgestapel in parallelle sinskonstruksies:

ek het losgespoel...
ek het koeie sien opstaan...
(ek het) ’n dag sien sterf...

In die slotstrofe word die opeenstapeling van romantiese beelde & die bittersoet openingsreëls wat die einde van ’n verhouding in die vooruitsig stel meteens ontluister deur die banaliteit van:

omdat ek moeg is
vir jou nat snoet in my lies.

Waar Dogter van Jefta (1970) dit gehad het oor die huislike & die wêreld van die skoolkind, verken Januarie-suite (1972) die milieu van die student, die erotiese liefde & heimweë na die heimat vanuit die isolasie van die kampus.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die vers “Lemoen-liedjie”:

        ’n lemoenboom in die winter is ’n sonboom
        ’n lemoenboom is ’n somerboom
                                   ’n baldadige balboom
                                   ’n bloeiende pynboom
        ’n lemoenboom is ’n groenboom

die lemoenboom skuur haar rug teen ’n klipmuur in die tuin
die lemoenboom sleep haar koelte oor gebinde lusern
die lemoenboom op die kampus broei daagliks op ’n posbus
en maandae as ons briewe huis toe pos is

        ’n lemoenboom in die winter is ’n sonboom
        ’n lemoenboom is ’n somerboom
                                   ’n baldadige balboom
                                   ’n bloeiende pynboom
        ’n lemoenboom is ’n groen boom

(1984/1990, 53)

Wat onmiddellik opval, is die tipografiese aanbod van die gedig (wat vaagweg op die bladspieël na 'n lemoenboom lyk) met die eerste & laaste strofes tipografies verder regs van die kantlyn & die middelste strofe teen die kantlyn. Verdere ondersoek sal ook laat blyk dat die eerste & derde strofes identies is, met die uitsondering van “groenboom” wat heel betekenisvol “groen boom” word. Maar daaroor later meer.

Wanneer ons kyk na die titel van die gedig, word die verwagting geskep dat dit oor lemoene sal handel, & dat dit elemente van ’n liedjie sal bevat, byvoorbeeld ’n refrein.

Die twee openingsreëls:

'n lemoenboom in die winter is ’n sonboom
’n lemoenboom is ’n somerboom

is op die eerste oog af nie-metafories: dit is so dat lemoenbome van sonlig hou, dat hulle vrugte eers in die winter ryp kan wees alhoewel hulle in die lente bloei. Dus: in die winter is die lemoenboom met sy helderkleurige vrugte “’n sonboom” – die vrugte is oranjekleurig soos die son.

Dit is egter met die volgende twee kwalifiserings van die lemoenboom wat dit duidelik word dat die digter dit nie hier het om ’n letterlike lemoenboom nie (alhoewel die inligting wat sy in verband met die lemoenboom gebruik, metafories of nie, moet klop):

’n baldadige balboom
’n bloeiende pynboom

Wanneer die digter die lemoenboom as “’n baldadige balboom” beskryf, verwys sy enersyds na die balvormige vrugte van die lemoenboom, maar baldadigheid is ’n spesifiek menslike eienskap & daardeur word die lemoenboom gepersonifieer. Die beeld het, met die herhaling van “bal” ook ’n seksuele konnotasie.

Met “bloeiende pynboom” word die bloei van die boom (wat in die lente gebeur) met “pyn” verbind. Die bloeiproses is dus pynlik. Dit word nou duidelik dat die digter dit hier het oor die lemoenboom as simbool van die jongmens se seksuele ontwaking (baldadige, bloeiende).

Die tweede strofe bring ’n reeks beelde waarin die jongmens op kampus se isolasie & verlange verbeeld word.

die lemoenboom skuur haar rug teen ’n klipmuur in die tuin
die lemoenboom sleep haar koelte oor gebinde lusern
die lemoenboom op die kampus broei daagliks op ’n posbus
en maandae as ons briewe huis toe pos is

Met die verwysing na die lemoenboom as “haar” word die personifikasie net net verder gevoer nie, maar die geslag van ontluikende jongmens word as vroulik aangedui. Tegelyk daarmee kry “bloeiende pynboom” van die vorige strofe die verdere betekenis van menstruasie.

Die jong meisie se gevoel van isolasie word uitgedruk deur twee beelde: enersyds deur die lemoenboom wat omring is van “’n klipmuur in die tuin”, & andersyds die lemoenboom wat “haar koelte (sleep) oor gebinde lusern” (kursivering van my).

Voorts “broei (die lemoenboom) daagliks op ’n posbus” & word daar duidelik na nuus van die huis verlang. “Broei” het hier egter ook ’n seksuele konnotasie, dié van seksuele groei, ryping. Hierdie verlange na nuus word geïntensifiseer deur die parallelle sinkonstruksie in hierdie strofe:

die lemoenboom skuur haar rug teen ’n klipmuur in die tuin
die lemoenboom sleep haar koelte oor gebinde lusern
die lemoenboom ... broei daagliks op ’n posbus

Die slotstrofe, soos reeds genoem, is ’n herhaling van die eerste strofe & beide vervul die funksie van refrein binne die liedjie-aard van hierdie gedig. As herhaling ’n belangrike tegniek is in die digterlike arsenaal, is herhaling-met-verandering nog meer potent. In die slotreël van die gedig word die “groenboom” waarmee gesuggereer word dat die lemoenboom immergroen is, “groen boom”: wat suggereer dat die student nog jonk is, nog “groen”.

Herhaling neem in die vroeë digkuns van Antjie Krog meer gestaltes aan as wat ek in die kort omvang van hierdie teks kon verken, maar dit is ongetwyfeld ’n ondersoek wat die leser van die poësie met vrug kan onderneem.


Bibliografie

Breytenbach, Breyten. 1964. die ysterkoei moet sweet. Afrikaanse Pers Boekhandel.
Krog, Antjie. 1990. Eerste gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.


(c) Johann de Lange, 2010