Wednesday, June 1, 2011

Felice Picano - Die liefhebber van mismaaktheid

B.J. Robinson (Fotograaf, George Dureau)

Die liefhebber van mismaaktheid
Felice Picano

Sy eerste liefde – ’n toeval
was ’n doofstomme
goudlenig soos ’n Weskus
korfbal-ster.
Verras deur sy geluk
was seks al waaraan hy kon dink.
Tot agterna
toe hulle op velle papier gesels het
en boodskappe geskryf het in vaselien.
Hulle het daarna
’n tyd lank eenkeer ’n week ontmoet.
Die seks het al beter geword
hulle lywe het al beter inmekaar gepas.
Toe het sy spraak begin faal.
Woorde het onakkuraat begin lyk
en skel
vergeleke met sy lippe lees,
of om ’n punt te maak
met ’n vingerpunt
of ’n soen.
Toe het die doofstomme weggegaan.

Die volgende een was ’n blinde seun
by ’n universiteitsgimnasiumdans.
Die kop vol haarkrulle
die lyf van ’n stiervegter,
’n Adriatiese spreekwyse,
het hom oortuig dié keer sal spesiaal wees.
Hy was nie teleurgesteld nie.
Dié keer het hulle gesels
maar baie sag,
nooit na mekaar gekyk
in die slaapkamer se blinde nag:
met aanrakings herontdek:
sagte steppe van ribbe,
heuwels van vlees,
oseane van eindelose vel.
Hulle het mekaar dikwels gesien –
geograwe van die tasbare.
Elke besoek het hom laat besef
ons sintuie –
so misbruik wanneer aanwesig –
word selde gemis wanneer hulle ontbreek.
Toe het die blinde seun ’n minnaar gevind.

Sedertdien het hy waagmoediger
geraak in sy soeke
na wat ander ignoreer.
’n Middag met ’n veteraan
wat, so blyk dit, ’n linkerarm
agtergelaat het in ’n rysveld in Viëtnam
bewys dat twee hande
beter is as een.
’n Nag met iemand ouer as hy
wie se stuipe
as hy naby aan kom is
nie orgasme is nie, maar pre-Grand Mal
het ’n spel van seks-
roulette geword.
Niks indiskreet nie.
Geen advertensies in die koerante vir geamputeerdes nie.
Geen rondhang naby die gestremdes
in die hoop dat ’n boggelrug dalk wil kontak maak nie.
Dit is skoonheid
waarna hy soek nie die groteske nie.
Maar die enigste volmaaktheid wat hy kan sien
is die mees opsigtelike,
skrynende
geskondene.

Hierdie is nie ’n Kraft-Ebbing-geval nie.
Sou hy gevra word,
sal hy sê hy’s ’n doodgewone ou.
Vir hom is ’n fynbesnede profiel gaaf,
maar aantrekliker met ’n spraakgebrek.
’n Welgeskape borskas sal sy
begeerte wek
maar met baie littekens of onewe pigmentasie
is die atletiese lyn meer bevredigend.
Mismaaktheid is ’n grasie, sal hy sê.
Soos dapperheid, is dit skoon
en altyd naïef
oop en vry, geen wegkruipery –
straks die mens se mees getroue toestand.
Wil jy sien hoe hy hierdie filosofie toepas?
Jy kan hom byna elke aand sien
in enige van ’n halfdosyn kroeë.
Hy’s ’n hospitaalsaal
vir die verminkte jong gode:
’n hawe vir enigeen se sjirurgiese storm:
op die uitkyk
om die menslike kondisie te fok.


[Vertaal deur Johann de Lange]