Friday, June 3, 2011

John Ash - In ’n Siriese hawe

Tartus (© iStockphoto.com, Olga Kolos)

In ’n Siriese hawe
John Ash

   na Cavafis

Hy’t in hierdie klein Siriese hawe aangekom
met planne om met wierook handel te dryf,
maar tydens die reis het hy siek geword,
en skaars van die boot af is hy dood.
Ons het hom begrawe. Dit was die armoedigste begrafnis.
Ons het geweet sy naam is Emes en dat hy nog jonk was.
Dit was al. Net voor hy dood is, het hy iets geprewel
oor “huis” en “ouers”,
maar wie hulle was, wis niemand, ook nie watter uithoek
van hierdie groot Helleense wêreld
hy huis genoem het nie, en dalk is dit beter so:
al lê hy begrawe in hierdie onbeduidende
hawedorp, sal sy ouers nooit daarvan hoor nie,
en kan bly voortleef in die hoop op ’n weersiens eendag.

[Vertaal deur Johann de Lange]