Saturday, November 12, 2011

Alfred Corn - Mobius Strip



Alfred Corn

Mobius  Strip
Alfred Corn

'n Onverwagse lenige halfdraai, sy kurktrek
draaikrag terug en óm, om kykers te sluit,
die trilling wat onthuts en wek eweneens 'n verrassing –
so… eiesinnig? so ontdaan – waar 'n skrale vier
of vyf toestromende posture meeding.

Ek het gewonder of enigiets anders as 'n stoeier se middellyf
en nek óp kan wentel om die blos
te ontbloot, die koel veerkrag van 'n gesig
nog klam van 'n warm stort, en ons
stabiele swaelstert-tempo laer af kan volhou.

Sweetnat krulle tuimel oor blougroen
oë afgeskerm aan een kant soos 'n filmster,
kaak geklem, en geen geykte f-woord nodig
om die smagting oor te dra, die driftige uitgelatenheid
wat nie ánders kan as selfsugtig wees as dit goed voel nie.

Toegegee, my grinniklag was 'n raps te veel spog,
dus leun jy terug met 'n soen om my stil te maak,
spanwerk terg die keerpunt tot een opwelling
boog en aardwaarts stort… Agtergelaat,
toegegee, maar geen klagtes van dié uitsteller.

Soos beide kante van ons vlesige Mobius
strip elkaar word, sal jy my weldra sien
'n halfdraai maak, en vertrou om jou oë te ontmoet.


(Vertaal deur Johann de Lange)