Sunday, April 29, 2012

Rainer Maria Rilke - Jy kom en gaan. Die deure swaai dig

Rilke by a Window, by Gerolf Van de Perre


Jy kom en gaan. Die deure swaai dig
Rainer Maria Rilke

Jy kom en gaan. Die deure swaai dig 
al hoe sagter, amper sonder om te sidder.
Van almal wat deur die stil huise beweeg,
is jy die stilste.

Ons raak so gewoond aan jou,
ons kyk nie langer op
as jou skadu val oor die boek wat ons lees 
en alles laat gloei nie.
Want alle dinge sing jou:
met tye hoor ons hulle net helderder.

Dikwels as ek my jou verbeel
tuimel jou heelheid in ’n veelvoud vorme.
Jy hardloop soos ’n trop stralende herte
en ek is donker, ek is woud.

Jy is ’n wiel waarlangs ek staan,
waarvan die speke my soms opvang,
nader aan die middel laat wentel.
Dan sal al die werk waaraan ek my hand sit
wyer uitkring van omwenteling na omwenteling.


[Vertaal deur Johann de Lange]