Saturday, June 2, 2012

Linda Chase - Korsikaanse Somer




Korsikaanse Somer
Linda Chase

Eenkeer, terwyl ons teen ’n berg op ry in Korsika,
het jy vertel van storms in Kolorado
wat die bome verander het in ys.
Toe het die wind die takke laat rinkel
soos kristalkandelare wat heelnag tinkel.
Jy was ’n kind wat in jou bed lê en luister.

Vanaand wil ek weer daardie storie hoor
al ken ek elke woord van buite.

Verlange na koue verswelg my
soos ’n swaar jas, op die grond gesleep.
Dis nie my jas nie, my lief, en tog
begeer ek elke soom – elke knoopsgat,
die knope sélf ook. Ek smag na daardie lied
wat die ysbome in die nag gesing het vir ’n seun.


[Vertaal deur Johann de Lange]

[Uit: Not Many Love Poems, Carcanet]