Thursday, March 21, 2013

Th. van Os - Brute skoonheid

© Matius


Brute skoonheid
Th. van Os

Jy sien hom meestal in die verbygaan:
as jy by die kleedkamer uitkom, stap hy
in & stap jy onder die stort uit
dan gaan hy onder een staan & jy
kyk om & sien sy boude saamtrek. Soiets.

Meestal is jy op vakansie, onderweg,
'n plek waar jy nie juis maklik kan stop nie
& ook nie wil nie (gewoonte, beterwete, geld),
'n helse sandsteenkrans met profiele uitgekap in klip.
En as jy stop, sien jy hoe hy verby drentel
nes jou langverwagte kegelroomys gereed is:
jy aarsel tussen smelt en koue, kans verspeel.

Meestal in van die suidelike lande
met baie woestyne & ruie rotsgebergtes
waar armoede nog romanties pittoresk lyk,
elke dorp 'n vullishoop & elke straat
ook 'n riool waar hy van ou motorbande
emmers maak vir die hammam
of opspring & agter 'n bok aan draf.

Soms het hy hande soos grawe, oë van 'n dier,
polse soos die pote van jong honde, luiperdkaak, die kleur
van appelstroop, die borselkop van 'n marinier.
Soms is hy 'n lokomotiefstoker, vragwabestuurder,
voetbalspeler, 'n gigolo wat geld verkwis,
slagterskneg met bloedwors, smid wat hingse beslaan.
Maar meestal is hy iemand wat alleen verby jou gaan.

Altyd is daar die blik, daardie rou
oomblik waarin jy weet dat jy van hom besete is:
jy knipoog asof teen té felle sonlig in &
dan hy is weg.

Tizi N’Tichka, Marokko


(Vertaal deur Johann de Lange)