Thursday, October 29, 2015

In memoriam, Tienie du Plessis




Ek het met Tienie kennisgemaak in 1991 toe ek my bundel Nagsweet van Tafelberg onttrek het ná 'n argument met Danie van Niekerk, destydse hoof van Tafelberg, oor die omslag van die bundel. Ek het my hart gesit op 'n potloodskets van Michael Leonard vir die omslag van my bundel, & Van Niekerk het gesê nee ek kan nie dáárdie een gebruik nie, maar wel die een op die teenoorgestelde bladsy. Daar was nie 'n groot verskil tussen die twee sketse nie, & ek het besef dit was sy manier om my wys ek sál die een gebruik wat hy kies. Dit was 'n magspeletjie. Iets waarmee ek geen geduld het nie.

Ek het my manuskrip onttrek & aan Taurus voorgelê. Aangesien Tafelberg in daardie stadium die boek reeds geset het, het Tienie voorgestel ons koop die proewe by Tafelberg oor. Dit sou ons tyd bespaar het, & straks 'n pennie of twee. Maar sy onderhandelinge met Danie van Niekerk het dieselfde kurwe gevolg: Van Niekerk was bereid om die proewe aan ons te verkoop, maar teen 'n belaglike bedrag. Wat Tienie uit die aard van die saak van die hand gewys het. Van Niekerk sou eerder die verlies ly, as om enige toegif aan ons te maak. Mág! Dis 'n bliksem, & daardie geledere was destyds hóóg daarvan.

Ek het 'n naweek by Tienie gaan sit & die manuskrip op sy rekenaar oorgetik. Dit was 'n moeisame proses want ek was glad nie handig met die rekenaar nie, & hulle het 'n argaïese DOS program gebruik wat ek glad nie geken het nie. Maar Tienie was nooit meer as 'n paar treë weg nie, besig met iets anders, & ek kon roep as ek vasbrand.

In 'n sin was dit goed dat dinge so afgeloop het want ek het intussen by 'n goeie vriend & destydse redakteur van die tydskrif De Kat, Johan van Rooyen, 'n pragtige waterverf van Walter Battiss gesien wat ek, met die toestemming van sy seun, Giles Battiss, kon gebruik het. Die uiteinde was vir my 'n boek wat esteties bevredig het & waarvan omslag & inhoud saamgewerk het.


Tienie & Taurus was van onskatbare waarde vir Afrikaans & die Afrikaanse letterkunde in 'n tyd toe die landskap veel anders daar uitgesien het, & hy het gesorg dat daardie stemme nie stilgemaak is nie, & daardie boeke nie verdwyn het nie. En al het sy stem nou stil geraak, op die 12de dag van die mooiste maand, staan daardie boeke verspreid op my rakke & kan ek hulle enige tyd uithaal & steeds die plesier ervaar van die sorg & kundigheid wat uit elkeen spreek, maar ook versterk voel deur die moed van daardie skrywerstemme wat gedra is deur die moed & beginselvastheid van Tienie du Plessis.

Die minotaur én matador is nou stil.

© Johann de Lange


Tuesday, August 4, 2015

Memento mori: Christo Gerlach

[Foto: Beaunitta van Wyk]

MEMENTO MORI

Christo Gerlach (1957 - 2015)

Open the photo album on your lap,
let the day in thru open shutters. 
Thru eyes & glasses, frame by frame,
you'll see the mortal light at last
that fell thru shutters of the past. 

© Johann de Lange 

Sunday, August 2, 2015

Johann de Lange - Verse vir T. T. Cloete

© Brenda Veldtman

KWATRYNE VIR T. T. CLOETE
In memoriam (1924 - 2015)


Egidius, waer bestu bleven?
Mi lanct na di, ghezelle mijn.
Du coors die doot, du liet mi tleven.

I
Die landskappe van sand & sneeu
kan soos mense omdraai & gaan lê,
rug aan rug, of na mekaar gekeer,
soms vir 'n oogwink, of byna 'n eeu.

II
Aardig, mens, om aan jou te moet dink roer-
loos op jou rug, oë nie langer gerig
op die uitdyende heelal nie: lens

& hersens nie langer liries aan’t dig.

III

Spoed jy verby kwasars, die Sewe Susters,
verby Orion se juwelekissie?
Op 'n tyd was jy God se troetelvissie,
nou nael jy lustig tussen sy ligusters.

IV

Die Vredesfortkoepel is ’n stil reuse plons:
‘n rooi lawaskild vir eons sissend in ‘n loog,
bergriwwe & rante, soos krale vir mastodons –
als lánk voor die dink van die digterlike oog.

*


PLAASMIDDAG, VREDESFORT DISTRIK


vir T. T. Cloete

Die namiddag loop voller, &,

afgemeet in jambes 
van die staanhorlosie, vol.
Die ver vaal heuwelriwwe drywe
bo die uitgewaste bekken.

Rooitong in die skadu

van ‘n lukwart lê die hond stertstil.
‘n Pietswind swiep verby & strooi
die sterredons van sade
& laat die plaasdam ligweg frons.



Monday, July 27, 2015

Petra Müller 80


Petra Müller (1935 - )  © NB

‘n Skrywer is sy woorde, & daarom wil ek vandag, op Petra se tagtigste, volstaan met ‘n vers wat tegelyk beskrywing is van ‘n skildery deur Eraine Nankin sowel as verslag van ‘n dag-in-die-lewe-van die digter.


vir eraine, wat sing terwyl sy skilder

noudat dit winter word, verdonker jou palet:
jou berg groei bonkig uit én swarter bron
en moet sy blou veeg van die bo-lug leen,
en die ploegland, purper soos én wond
waar storms dit getref het, kan skaars
die lading lig dra
van die junieson
jy beweer: die sonskyn van die somer kan nooit so
genadig wees soos wintersonskyn nie; verf set
nou so stadig, daar is altyd tyd genoeg
om én te diep bewoë skakering van donker nog
te bewerk vir die ervaring van die lig: geel
op dooigras van die werf,
selfs, waagsaam,
oor water
én flonker
maar dít wat jy eintlik wou skilder: die musiek
van die wilde onsigbare strome (suiwer mozart
in én yl seisoen) dit moet vermoed word,
dit laat jy aan die ryker toeval oor,
dit moet stroom van kwas tot kyker
soos die klanke van jou eie noemnaam, onverwagse
kleine dagmusiek, wat van een taal in die ander
moduleer van vrede tot by reën

*

Bibliografie


Digbundels
Obool, Tafelberg, Kaapstad, 1977
Patria, Tafelberg, Kaapstad, 1979
Liedere van land en see, Tafelberg, Kaapstad, 1984
My plek se naam is Waterval, Tafelberg, Kaapstad, 1987
Swerfgesange vir Susan en ander, Tafelberg, Kaapstad, 1997
Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde, Tafelberg, Kaapstad, 2002
Night crossing, Tafelberg, Kaapstad, 2006
Om die gedagte van geel, Tafelberg, Kaapstad, 2012

Kortverhaalbundels
Werf in die rûens, Tafelberg, Kaapstad, 1980
Voëls van die hemel, Tafelberg, Kaapstad, 1982
Die dwerg van die Infanta en ander verhale, Tafelberg, Kaapstad, 1993
In die omtes van die hart, Tafelberg, Kaapstad, 1995
Desembers (saamgestel deur Rachelle Greeff), Tafelberg, Kaapstad, 2007

Romans
Verlore vallei, Dagbreek-Boekkring, Johannesburg, 1962
Die windskerm, Human & Rousseau, Kaapstad, 1963

Drama
Tant Madeleine se somer, Makro, Pretoria, 1974

Kinderboeke
Die kind van konings, John Malherbe, Kaapstad, 1968
Klein Wiek se groot pampoen, Tafelberg, Kaapstad, 1980
Reënboog vir Hannatjie, Tafelberg, Kaapstad, 1990

Romans gepubliseer as Magriet Smalberger
Die elande van Kruisberg, Dagbreek-Boekkring, Johannesburg, 1963
Hy wat die goud bring, Human & Rousseau, Kaapstad, 1966
Die koue vuur, Human & Rousseau, Kaapstad, 1970
Die Magriet Smalberger-omnibus, Human & Rousseau, Kaapstad, 1982

Bekronings
1974: Sanlam-prys vir Afrikaanse Drama vir Tant Madeleine se somer
1980: Eugène Marais-prys vir Patria
2005: Herzog-prys vir Afrikaanse Poësie vir Die aandag van jou oë
2013: ATKV-Woordveertjie vir Poësie vir Om die gedagte van geel
2013: Sala se Poësieprys vir Om die gedagte van geel



© Johann de Lange

Sunday, April 12, 2015

J. C. Steyn - Leonardo


Dis of alles na mens aangestorm, -gegalop
kom om wonder te word, te interesseer:
perde se steier, voëls swewend, hul vlieg
wég van; dat ruspe papie word, papie mot, leer
– hóé leer in die harsings, waar?
Of die hart se pomp, die stroom van bloed,
die hele liggaam, uit elke hoek
bekyk: Hoe sou oë sien, senings span?
Hoe bult die borsspier van ‘n man?
Kyk, ondersoek (en leer Latyn!
om per boek te kan verklaar, ééndag)
ook verbeeldinge wat nog moet kom:
geluid, die Diereriem, die brein.
Die tyd vlieg. As jy alleen is,
hoort jy allenig aan jouself.
Om klaar te maak uit (dis al uitgedink uit)
brons en klei, enk’les uit die verf:
Heilige Sebastiaans, madonnas byna klaar,
een Laaste Avondmaal,
die Slag van Anghiari: onvoltooi
die doodsbleek smart – oorwonnenes
en trane verf wat alles oor die muur

Hoe boei die lewe! Hoe boeiend alles
wat maakbaar – vlermuismasjiene
kanonne met monde, bomme met vinne,
gas wat die vyand sal verlam
en die groot voël wat sy vlug
moet begin op die groot swaan Ceceri se rug.
Die natuur van die voël: Hoe vlieg
En hoe vlieg die tyd? Hoe lê ‘n fetus in
En hoe die weefselstringe in die hart?

Een wonder is daar wat mens
te wonderbaar is, ja een geheim
wat jy nimmer kan vat: die weg
van die mens se natuur, en die hart
(nie “die hart”, elke hart, enige, maar dié)
hierdie hart wat hartstarrig bemin
teen alle willens, onwilligens in –
g’n maagd, madonna of mona
maar die klein Satan van ‘n Salai
wat lieg en steel en vreet soos ‘n vark.
Vervloek is so ‘n hart
en die weg van ‘n man weg van 
Maar as daar geen liefde is nie,
wat dan?

(Uit: Die verlore vader, 1985)

Monday, March 30, 2015

Breyten Breytenbach - Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif


Bloeiende hart duif van Luzon

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
ek hy kleur my boodkap so bruin oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie